2am-VERLANGE

Ons woorde het verdamp tot ondraaglike stiltes wat begin skree (soos ‘n baba met koliek) in die vroegoggendure waar ek alleen in my bed lê en jy alleen in joune. Die maan hang steeds aan ‘n toutje in die hemelruim met verskietende sterre wat oor sy wange drup. Dit is twee-uur en ek wonder of jy ook nou deur jou kamervenster kyk op soek na antwoorde in die sterre. Sou ons oë mekaar in dieselfde blik op ‘n ster ontmoet? Ek glo nie, want indien my oë skelm na jou draai en per ongeluk jou bruin oë ontmoet, bars ‘n ongemaklikheid oor ons en voel ek en jy verleë. Ek vind antwoorde in musiek, alhoewel dit nie die antwoorde is waarna ek gesoek het nie. Ek karoake op Taylor Swift – hoop dat die lewe tog ‘n movie is soos sy ook wens “but if this was a movie you’d be here by now/It’s not the kind of ending you wanna see now”. Ek kan nie slaap nie. Jou woorde speel soos ‘n gramofoonplaat wat vasgehak het, oor en oor in my gedagtes. Jy blyk onskuldig en verward oor hoe vinnig ‘n onskuldige gesprek tot die einde van ons “vriendskap?” (of wat ook al jy dit noem) kon lei. Ek lê nou alleen met ‘n leë plek langs aan my, ‘n holte waar jy altyd gelê het. My lakens ruik nog soos jy. Ek sal dit oor en oor moet was om daardie naskeermiddel wat jy gebruik het, uit te was. Die kussing waarop jy geslaap het, besit al jou drome wat jy snags opgetower het. Ek het twee koppies koffie vanoggend in my moegheid gemaak – wie gaan die ander een drink? Ek mis jou, maar ek sal dit nie hardop erken nie. Ek was verslaaf aan jou, aan die gevoel wat jy vir my gegee het as jou hand liggies en subtiel aan myne raak en jou skaam skewe glimlag wat jou gesig laat ophelder het. Ek mis ons gesprekke tot drie-uur die oggend waar ons oor alles en niks kon praat. Nou sit ek alleen met my gedagtes, jou woorde en ‘n spook wat my hart om middernag kom wakker klop met skuldgevoel en hartseer, met gebrokenheid oor wat nie meer is nie of wat nooit werklik was nie. Agter ons woorde het geheime geskuil wat ons nie wou openbaar nie. In ons oë kon die waarheid nooit asemhaal nie, omdat ons getinte vensters gehad het om ons siele te beskerm teen verwerping. My foon vibreer en klink op teen die nag se stiltes. Ek wens dit was ‘n boodskap van jou. [eks jamer] jou spelfoute het my nog altyd geïrriteer. Wees bly, jy is nou ontslae daarvan. Dan hoekom mis ek dit, mis ek om jou foute uit te wys en reg te maak? Trane rol uit die gleufies van my oë en klou aan my wange vas. Het ek ‘n fout begaan?

My gedagtes vlug hier vandaan, loop kaalvoet op die teerpad, gooi duim by die verkeerslig. Kan iemand asseblief my optel en my neem waar dit nie meer sal seermaak nie. Ek skribbel halwe woorde in my notaboek. Gedigte skets my hart, my gemoed, my gedagtes. Jy is in almal van hulle. Die hoofletter waarmee die gedig begin en die punt waarmee die gedig tot ‘n einde kom. Jy is die vrye vers waarmee ek myself vasketting aan sorgelose struktuur. Jy is die paarrym wat my woorde laat rymdwang [in die skemer skuil jy agter kakiebos/skryf ek steeds briewe wat ek nooit pos] My woorde maak nie veel sin nie.

Dit is 2:59.

geskryf deur Melissa van Eeden