MEID

Nes in daai dae – die dae toe my ma haar moes afsloop aan wittes om my en my broer ‘n lewe te gee wat sy nooit kon gehad het nie – bedien ek nou ook die Heiliges van Apartheid. Elke oggend staan ek op voor die son sy glimlag op die duistere horison kan lê, om betyds te wees vir die taxi wat sesuur by die stop wag. Vyf voor agt klop ek aan die Baas se voordeur. My skof begin agtuur. Ek verneder myself deur om daai domestic worker-uitrusting te dra – daardie een met die groen en geel blommetjies; jy ken hom, mens koop dit by Checkers vir 99. “Ja Baas” wys ek respek aan hom wat my diligeer asof ek dankbaar moet wees. “Ja Miesies” knik ek vir die ma’am wat my uittrap oor die werk wat ek die vorige keer afgeskeep het. “Maria, jy is nog nie klaar met die wasgoed nie. Hoekom nie? Dit is nie so moeilik om die goed in die masjien te sit nie.” Die Miesies se oë val op ‘n hopie stof in die hoekie van die sitkamer. “Kyk hoe half maak jy skoon.” Ek knik, instemmend, want dit is wat die norm beaam.

Ek wys respek vir die witte, maar dan word ek soos die kind behandel: moet gesien word, maar nie gehoor word nie. Dit is so. Ek sal die mat stofsuig, en dan sal hulle in die kamer gaan sit en niks doen, nee ek mag nie sê niks doen nie. As ek klaar is sal hulle ‘n ogie kom gooi met naaldwerk, die Miesies brei deesdae. Ek hang die wasgoed op. Hulle dra baie klere. En net voor ek die agterdeur oopmaak, hoor ek hulle praat. Ek bly buite, wil hulle nie steur nie. “Sy werk alweer half vandag. Sy het dit ook laasweek gedoen. Ek kan nie meer nie.” Die Miesies se stem is kwaai.

Ek dink na aan wat die Miesies gesê het, toe ek op die taxi terug huis toe ry. Hoekom kan sy nie die werk doen nie? Sy is lui. Ek weet daar is mense wat werk en so, maar sy werk nie, brei net die heeldag. Jy moet hulle huis sien. Groot, morsig en vuil. Ek moet alles doen. Die Miesies weet nie eers hoe werk die masjien nie. Sê vir my dit vat nie so lank om die goed in die masjien te sit nie, hoekom doen sy dit nie? Want die wittes is privilegded, nie almal nie, maar hulle is. Ek hoor wat hulle sê. Die swartes wil nie werk nie, soek net. Ja, ons soek net – ons soek net ‘n lewe waar die wittes vir die swartes as maid sal werk – dit is mos gelykheid, né? Ag, die politics.

Ek is ‘n meid. So sê die witte Baas vir wie ek werk.

Geskryf deur Melissa van Eeden

Advertisements

2am-VERLANGE

Ons woorde het verdamp tot ondraaglike stiltes wat begin skree (soos ‘n baba met koliek) in die vroegoggendure waar ek alleen in my bed lê en jy alleen in joune. Die maan hang steeds aan ‘n toutje in die hemelruim met verskietende sterre wat oor sy wange drup. Dit is twee-uur en ek wonder of jy ook nou deur jou kamervenster kyk op soek na antwoorde in die sterre. Sou ons oë mekaar in dieselfde blik op ‘n ster ontmoet? Ek glo nie, want indien my oë skelm na jou draai en per ongeluk jou bruin oë ontmoet, bars ‘n ongemaklikheid oor ons en voel ek en jy verleë. Ek vind antwoorde in musiek, alhoewel dit nie die antwoorde is waarna ek gesoek het nie. Ek karoake op Taylor Swift – hoop dat die lewe tog ‘n movie is soos sy ook wens “but if this was a movie you’d be here by now/It’s not the kind of ending you wanna see now”. Ek kan nie slaap nie. Jou woorde speel soos ‘n gramofoonplaat wat vasgehak het, oor en oor in my gedagtes. Jy blyk onskuldig en verward oor hoe vinnig ‘n onskuldige gesprek tot die einde van ons “vriendskap?” (of wat ook al jy dit noem) kon lei. Ek lê nou alleen met ‘n leë plek langs aan my, ‘n holte waar jy altyd gelê het. My lakens ruik nog soos jy. Ek sal dit oor en oor moet was om daardie naskeermiddel wat jy gebruik het, uit te was. Die kussing waarop jy geslaap het, besit al jou drome wat jy snags opgetower het. Ek het twee koppies koffie vanoggend in my moegheid gemaak – wie gaan die ander een drink? Ek mis jou, maar ek sal dit nie hardop erken nie. Ek was verslaaf aan jou, aan die gevoel wat jy vir my gegee het as jou hand liggies en subtiel aan myne raak en jou skaam skewe glimlag wat jou gesig laat ophelder het. Ek mis ons gesprekke tot drie-uur die oggend waar ons oor alles en niks kon praat. Nou sit ek alleen met my gedagtes, jou woorde en ‘n spook wat my hart om middernag kom wakker klop met skuldgevoel en hartseer, met gebrokenheid oor wat nie meer is nie of wat nooit werklik was nie. Agter ons woorde het geheime geskuil wat ons nie wou openbaar nie. In ons oë kon die waarheid nooit asemhaal nie, omdat ons getinte vensters gehad het om ons siele te beskerm teen verwerping. My foon vibreer en klink op teen die nag se stiltes. Ek wens dit was ‘n boodskap van jou. [eks jamer] jou spelfoute het my nog altyd geïrriteer. Wees bly, jy is nou ontslae daarvan. Dan hoekom mis ek dit, mis ek om jou foute uit te wys en reg te maak? Trane rol uit die gleufies van my oë en klou aan my wange vas. Het ek ‘n fout begaan?

My gedagtes vlug hier vandaan, loop kaalvoet op die teerpad, gooi duim by die verkeerslig. Kan iemand asseblief my optel en my neem waar dit nie meer sal seermaak nie. Ek skribbel halwe woorde in my notaboek. Gedigte skets my hart, my gemoed, my gedagtes. Jy is in almal van hulle. Die hoofletter waarmee die gedig begin en die punt waarmee die gedig tot ‘n einde kom. Jy is die vrye vers waarmee ek myself vasketting aan sorgelose struktuur. Jy is die paarrym wat my woorde laat rymdwang [in die skemer skuil jy agter kakiebos/skryf ek steeds briewe wat ek nooit pos] My woorde maak nie veel sin nie.

Dit is 2:59.

geskryf deur Melissa van Eeden

SELFIE

 

AFRIKAANS :
Ek loer met my hande gebak om my oë, deur die venster en sien hoe jy daar by tafel sit met ‘n iPhone in jou hand. Jy tik idees, aanhalings en notas vir jou volgende selfie-post. Filosofies. Uit die boks. Nee, vee ‘uit die boks’ uit – skryf liewer geen boks – no limits (behalwe as dit by drank kom). Jy druk die kamera-toep. Pout. In gedagte. Kyk in die kamera. Fokus. Sit ‘n hoed op. Sit sonbrille op. Lyk cool. Swag. Moenie smile nie. Smile is so laas dekade. Edit die selfies met beautifier. Sit ‘n filter op – black and white, sutro, 1920’s. Caption this. Hashtags. Post dit op Instagram. Wag vir die notifications – Xander98 just liked your photo. Sukses bloei na die hoeveelste notification – jou selfie van ‘n man(vrou) wat smag na die aanvaarding van die samelewing en ‘n gevoel van lewe deur ‘n filosofiese aanhaling met ‘n gedokterde foto
was ‘n hit.

ENGLISH :
I peak through your window and see a man sitting at the table with an iPhone in his hand. You type ideas, quotes and notes for your next selfie post. Philosophical. Out of the box. No, rather no box – there is no limits. You click on the camera and a few moments later, your face appears to be the centre of attention. Pout. In thought. Stare into the camera. Focus. Put accerrosies on. Underline cool. Swag. Don’t smile. Smiling is so last decade. Edit the selfies with beautifier. Filter the images – black and white, sutro, 1920s. Caption this. Hashtags. Post it on Instagram. Wait for the first notifications – Xander98 just liked your photo. Success flourishes notification after notification, comment after comment – Your selfie of a man(woman) who tastes after the acceptance of society and a sense of life through a philosophical quote with a documented picture
was a hit.

SPORE

Spore

Geskryf deur Melissa van Eeden

 

Eensaam

staan Spore op die stasie waar hy wag

vir die trein na Johannesburg

waar hy sy drome gaan najaag

hy hoor reeds die begeleiding

van die stadsgedruis waarop hy snags

gaan neurie voordat hy verval in ‘n onderbroke slaap

van ‘n taxi se toet ‘n streekstaal wat mense

in die verbygaan klets die neonligte wat as

tydaanwysing dien vir die nag

 

om die draai kom hy aan gehardloop

die lokomotief wat voort storm

Spore tel sy koffer op, voel-voel

aan sy sak vir die drie klippies

sy glimlag breed getrek op sy armoedige gesig

‘n skreeuende fluit jaag die voëls uit hul neste wat nou swerm in die

blou lug met gesketsde rookwolke soos die lokomotief ‘n laaste

teug neem van die sigaret voordat die sigaretstompie

by die venster uitgesmyt word

die lokomotief skop vas teen die yster

en stop voor Spore

die deure ruk oop

niemand klim uit

Spore gee die man twee klippe voor hy in klim

die laaste klip sal hy gebruik om sy moeder te bel

as hy veilig in Johannesburg bestem

DERICK-AANHANGERS KNOU WÉÉR VIR KARLIEN OP SOSIALE MEDIA

Op vandeesweek se Huisgenoot (8 Junie 2017) pryk die beeldskone gesig van die popprinses Karlien van Jaarsved met ‘n artikel in die Huisgenoot wat handel oor haar huwelik met die destydse rugbyspeler, Joe Breytenbach, haar swangerskap, haar musiekloopbaan en haar geluk.

Die artikel (geskryf deur Marisa Focheman) blyk eerlik en opreg, bevry Karlien se woorde, waardes en persoonlikheid tot ‘n “veilige” ruimte, maar nes Karlien ook voorheen al geleer het, en veral in die jare 2015/2016 ervaar het hoe die media, sosiale media en aanhangers wat niks weet nie, menings wil lug oor dinge wat hulle nie traak nie. Wat veronderstel was om ‘n mooi artikel te wees waarin Karlien vry word van al die seer, word dit toegesmeer deur aanhangers van haar eksman, die Liefling van Loftus, Derick Hougaard, wat haar slegsê oor ‘n enkele beskrywing wat sy gee vir haar en Derick se huwelik – “vasgevang en in ‘n seer plek gevoel het”.

Verslaggewing wat Derick se aanhangers rooi laat sien het was die van Channel 24 se The Juice wat daarop klem lê in die opskrif “Karlien tells Huisgenoot that she has regrets about her marriage to Derick” dat Karlien verwyte dra oor dié huwelik. Karlien praat ook van die seer wat sy ervaar het in die huwelik, dat sy met die kortstondige afstel van die troue al moes geweet het, maar dat sy gehoop dat die probleme met die huwelik sou verander. Eerlikwaar, Derick ken ook die seer. In tyd van depressie en trauma lui die vrae “wat kon ek anders gedoen het?”, “wat as…?” en die vrae neem ek aan het ook in Karlien en Derick se koppe gemaal. “Regrets” wysig op die verwyte van tyd en gebeure. Karlien verwyt die seer wat die huwelik gebring het, maar sy verwyt nie die liefde wat daaruit geblom het nie. Tog, in die Channel 24-artikel noem The Juice nes daar in die Huisgenoot staan dat Karlien nooit die tyd sou wou terug draai nie, want uit haar en Derick se huwelik het hul tweelingseuntjies, Daniël en Eliah, lewe gevind en dra sy ook hul dogtertjie, Evah, saam met haar, nes Derick. Karlien meen dat hul seuntjies vir Derick as ‘n held moet sien en dat hulle hul pa soveel as moontlik sien. Sy het al vorige artikels, onderhoude en Facebook-inskrywings genoem dat sy nie Derick in die publiek sal afmaak en slegsê nie.

Dus, lui die opskrif op Channel 24 ‘n halwe waarheid. Nes Karlien, ervaar Derick ook pyn en seer van hul mislukte huwelik. Derick het al ‘n paar keer in die Huisgenoot verskyn waar hy praat oor sy seer as pa en as man. Hy het ook al talle onderhoude aan koerante soos Beeld en Rapport toegestaan waar hy praat oor die bekende (of is dit die berugte, befaamde?) ring, skei en die kostes daaraan verbonde. Hougaard het homself ook in ‘n Facebook-inskrywing beskryf as die slagoffer wat hy blyk te wees en dat hy uit die persona van die slagoffer wil kom.

Tog, het Derick die artikel wat op Channel 24 verskyn met die pynlike, verwytende titel “Karlien tells Huisgenoot that she has regrets about her marriage to Derick” gedeel op sy persoonlike Facebook-blad. Daar is ook ‘n “support group” en blad op Facebook – Support for Derick Hougaard – waar dié ondersteuners Karlien slegsê. Karlien was in 2016 afgetakel deur die media, sosiale media en aanhangers en buitestaanders na haar en Derick se egskeiding, nuwe liefde, finansiële kwessies, tirades op sosiale media. Karlien het besluit om haar lewe privaat te hou en min, indien geen inligting oor haar private lewe met die publiek en media te deel.

Karlien meen dat haar nuwe album, Sing Vir Liefde, haar eerlikste album is. Dit is outobiografies van aard, omdat Karlien haar hart uitgestort het in liedjies soos “My kruis”, “Skop as ek lê” en “Twee huise”. Karlien is eerlik dat sy die musiekbedryf wou verlaat, maar die Here se wil gebruik nog haar stem om boodskappe oor te dra en mense aan te raak. Die media is ‘n kruis. Die woorde en kommentaar wat mens aftakel is ‘n kruis. Netso, is Maandae ook ‘n kruis vir meeste mense. Watter kruis dra jy?

Die woorde wat ek in “Support for Derick Hougaard”-kommentaarboksies gelees het, maak my skaam. Ek dink nie Derick, of Karlien, of enigiemand, verdien om sleg gesê te word nie. Menswaardigheid is tog inderdaad ‘n mensereg en dra by tot die mens wat die samelewing bou of aftakel. As jy nie iets opbouend en goed kan sê nie, sê dan liewer niks. Party mense het al geleer dat jy nie almal tevrede sal kan stel nie, maar dit gee jou nie die reg om iemand se lewe ondraaglik te maak nie. Derick meen in ‘n tweet in 2016: “Ons mors ons tyd en ons woorde. Breek af as gevolg van jou eie ego,” lui die twiet. Bou eerder mense op en wees daar vir hulle.”

“Daar is baie goeie mense in die wêreld. Moenie toelaat dat die negatiewes jou aandag aftrek en so jou vreugde steel nie.” Karlien beskryf die In Jou Skoene-program wat deur VIA geloots is, as ‘n “eye-opener” tot die goeie mense wat nie afbrekend is tot die gemeenskap en individu nie.

Derick, maak die lewe jou sportsveld, dan kan jy elke dag rugby speel met die bal wat jy met elke sukses oor die pale skop. Sien jou ondersteuners as die vol stadium. Sien die seer as die adrenalien wat inskop voor ‘n game en dat dit jou ‘n sterker man sal maak. [DERICK (TWITTER): “Every sportsman’s dream. Going out on your terms and a full stadium. The power of sport.”]

Karlien, laat die lirieke wat jy neerpen jou suiwer van die pyn, van die seer, en wees ‘n vrygees in die tyd waar geluk jou omhels met liefde.

 

Lees die artikels hier:

karlien-tells-huisgenoot-that-she-has-regrets-about-her-marriage-to-derick