MEID

Nes in daai dae – die dae toe my ma haar moes afsloop aan wittes om my en my broer ‘n lewe te gee wat sy nooit kon gehad het nie – bedien ek nou ook die Heiliges van Apartheid. Elke oggend staan ek op voor die son sy glimlag op die duistere horison kan lê, om betyds te wees vir die taxi wat sesuur by die stop wag. Vyf voor agt klop ek aan die Baas se voordeur. My skof begin agtuur. Ek verneder myself deur om daai domestic worker-uitrusting te dra – daardie een met die groen en geel blommetjies; jy ken hom, mens koop dit by Checkers vir 99. “Ja Baas” wys ek respek aan hom wat my diligeer asof ek dankbaar moet wees. “Ja Miesies” knik ek vir die ma’am wat my uittrap oor die werk wat ek die vorige keer afgeskeep het. “Maria, jy is nog nie klaar met die wasgoed nie. Hoekom nie? Dit is nie so moeilik om die goed in die masjien te sit nie.” Die Miesies se oë val op ‘n hopie stof in die hoekie van die sitkamer. “Kyk hoe half maak jy skoon.” Ek knik, instemmend, want dit is wat die norm beaam.

Ek wys respek vir die witte, maar dan word ek soos die kind behandel: moet gesien word, maar nie gehoor word nie. Dit is so. Ek sal die mat stofsuig, en dan sal hulle in die kamer gaan sit en niks doen, nee ek mag nie sê niks doen nie. As ek klaar is sal hulle ‘n ogie kom gooi met naaldwerk, die Miesies brei deesdae. Ek hang die wasgoed op. Hulle dra baie klere. En net voor ek die agterdeur oopmaak, hoor ek hulle praat. Ek bly buite, wil hulle nie steur nie. “Sy werk alweer half vandag. Sy het dit ook laasweek gedoen. Ek kan nie meer nie.” Die Miesies se stem is kwaai.

Ek dink na aan wat die Miesies gesê het, toe ek op die taxi terug huis toe ry. Hoekom kan sy nie die werk doen nie? Sy is lui. Ek weet daar is mense wat werk en so, maar sy werk nie, brei net die heeldag. Jy moet hulle huis sien. Groot, morsig en vuil. Ek moet alles doen. Die Miesies weet nie eers hoe werk die masjien nie. Sê vir my dit vat nie so lank om die goed in die masjien te sit nie, hoekom doen sy dit nie? Want die wittes is privilegded, nie almal nie, maar hulle is. Ek hoor wat hulle sê. Die swartes wil nie werk nie, soek net. Ja, ons soek net – ons soek net ‘n lewe waar die wittes vir die swartes as maid sal werk – dit is mos gelykheid, né? Ag, die politics.

Ek is ‘n meid. So sê die witte Baas vir wie ek werk.

Geskryf deur Melissa van Eeden

Advertisements